OMSENDBRIEF van ons VOORSITTER.

31 Desember 2018

AAN AL DIE SASPO LEDE

In aansluiting by my 2018 Voorsittersverslag, wat afgelaai en gelees kan word by www.saspo.org.za (SASPO Chairman=s report) wil ek graag net weer die volgende onder u aandag bring.

1. Baie dankie aan Pretoria Pluimveeklub vir ‘n baie lekker en suksesvolle 2018 SASPO Kampioenskapskou. Die 2019 SASPO Kampioenskapskou sal deur Bloemfontein Pluimveeklub, te Bultfontein, aangebied word. Die datum sal later deur die betrokke klub bevestig word;

2. Eksamens sal soos in die verlede by ‘n Kommissaris van Ede afgelê word en nie meer by die jaarlikse Kampioenskapskou nie;

3. Slegs 3 inskrywings per klas, per variëteit, sal by die jaarlikse Kampioenskapskou aanvaar en toegelaat word;

4. SASPO ledegeld bly onveranderd op R165.00 per enkellid en R330.00 per Joint Venture;

5. Geen hantering van pluimvee, na beoordeling, sal toegelaat word nie;

6. Skoureëls word gewysig vir 1 dag skoue – kos en water moet gegee word deur skouhoudende klubs;

7. Klubs word aangemoedig om die Show Manager program aan te koop en te implementeer;

8. Hok fooie moet so gou moontlik na elke skou, aan SASPO oorbetaal word;

9. Sluitingsdatum vir eksamen inskrywings is 31 Januarie 2019 (en jaarliks daarna op 31 Januarie). Lede wat belangstel om in te skryf vir die 2019 eksamens word versoek om so gou moontlik die nodige aansoekvorms by hulle klub sekretarisse aan te vra;

10. Mnr. Ben Hall tree nou uit as die SASPO Nasionale Jeugverteenwoordiger en baie geluk aan Me Janné van NIekerk wat in sy plek aangestel is. Janné, ons wens jou alle voorspoed en sukses toe met hierdie groot taak wat nou op jou skouers rus. Ons glo dat, onder jou leiding, die Jeugspan sal groei en floreer. Ben, baie dankie vir al die jare se toewyding en entoesiasme waarmee jy die jongelinge onder jou vlerk geneem en opgelei het.

Ek was vanjaar bevoorreg om by 6 klubs, insluitende Namibië, te kon beoordeel en ek kan met groot vrymoedigheid sê dat die gehalte van ons pluimvee jaarliks verbeter. Dit kan toegeskryf word aan toegewyde en doelgerigte lede wat werklik lief is vir hulle diere. Gaan so voort sodat ons SASPO na groter hoogtes kan neem.

Aan al die nuutverkose komitees, baie geluk met julle verkiesing en dankie dat julle bereid is om leiding in julle onderskeie klubs te neem. Mag ons van 2019 ‘n uitstekende en suksesvolle jaar maak.

Baie geluk aan diegene wat Skoureëls en Ras eksamens geskryf en geslaag het. Ek hoop dat ons volgende jaar meer lede sal kry wat in julle voetspore volg.

In my Voorsittersverslag het ek alreeds ‘n klomp bedankings gedoen, maar gun my die geleentheid om die volgende spesiale bedankings te doen. Tim en Elbé Nixon, Willie Hall, Joachim Losos, Etienne Diedericks, Tony van Greune en Frikkie van Kraayenburg. Baie dankie aan al die positiewe lede vir ‘n baie lekker en suksesvolle skoujaar.

Hiermee wens ek al ons lede ‘n baie voorspoedige 2019 toe. Die vakansie is amper verby, maar ek vertrou dat almal lekker uitgerus en ontspan het en dat almal die 2019 skoujaar met nuwe geesdrif en entoesiasme sal aanpak. Ry veilig en voorspoedig en ons sien mekaar DV volgende jaar by die skoue.

SASPO groete,

Albert Lingenfelder – Voorsitter

saspo